| Daar is min dinge in die lewe wat my mond so tevrede stel soos ‘n sny ordentlike Franse roosterbrood. As daar dan nog ‘n repie of ses bros gebraaide spek by is en ‘n leksel stroop of heuning, is my smaakorgane in die hemel. En ek sal wragtag my siel verkoop as iemand ‘n bord voor my neersit met al die bogenoemde en nog daarby ‘n paar bessies en ‘n klein flessie room. Nie net vir brêkfis nie, sommer enige tyd van die dag. As al my dinge mooi loop en al my drome en planne werk uit, sal dit die heel eerste gereg op die spyskaart wees as ek die dag my koffie-kêffie oopmaak en ek sal dit elke dag eet tot ek so gatvol is dat ek nie meer kán nie. Daar is ‘n hele paar gastehuise in ons land waar ek gereeld oorslaap as ek iewers ‘n konsert moet gaan doen en die mense in al daai kombuise wéét, Franse roosterbrood en spek vir my ontbyt. In die meeste plekke hoef ek nie eers meer te vra nie, dit kom sommer van selfsprekend tafel toe. As enige plek dit op hulle spyskaart het, kan jy maar daarop wed dat dit is wat ek gaan bestel. En ek kan lekker moerig raak as dit nie ordentlik voorberei is nie. As dit na geskroeide eier proe is ek op die plek dikbek en as dit sulke dun winkelbrood snytjies is huil my mond. Ek kan onomwonde hier getuig die beste Franse roosterbrood in Johannesburg kry jy by 44 Stanley Street se Salvation Café. Gaan probeer dit gerus as jy my nie wil glo nie. Sulke lekker dik snye taai brood wat saggies gaargemaak is met al die nodige tierlantyntjies om jou mond te laat sing van vreugde. |
My en Agnes se weergawe van Salvation Café se French Toast
Bestanddele 2 Snye ordentlike brood per persoon Vir ‘n soet broodjie het jy stroop, gebraaide piesang en bessies nodig. In die somer kan jy snye perske en veselperske ook byvoeg. Metode Maak ‘n pan vir die spek goed warm en een vir die brood net matig. Moenie die brood op ‘n hoë hitte braai nie – dit gaan skroei buite en rou wees binne. Vir die soet broodjie kan jy die piesang saam met die spek braai en vir die sout broodjie kan jy alles saam in ‘n pan braai – behalwe natuurlik die brood. Stapel alles bo-op mekaar en maak die bord mooi met ‘n groenigheid. Vir die soet broodjie ‘n paar blare kruisement en vir die soute geskeurde basielkruidblare. ![]() |
Ken jy die?
Waar Franse roosterbrood sy oorsprong het is nie heeltemal seker nie, maar die eerste opskrywing daarvan kom uit ‘n Romeinse kookboek van die 4de eeu. Wat wel met sekerheid gesê kan word is dat ou brood al vir eeue so ‘n nuwe gedaante kry.
In Frankryk self en heelparty ander lande staan dit bekend as pain perdu, wat letterlik verlore brood beteken.
In Duitsland word daar van die Arme Ritter gepraat. In Noorweë en Denemarke is dit arme riddere en in Swede fattiga riddare. Dit kom heel moontlik uit die middeleeue as ‘n ridder nie genoeg oud gehad het om vleis te koop nie, het hy ou brood in eier geweek en gebraai. In Duitsland word dit soms eers in wyn geweek voordat dit in die eiermengsel geweek word en word dan ‘n Betrunkene Jungfrau genoem, ‘n dronk maagd!
In Holland en België staan dit bekend as Wentelteefjes. Ek het geen idee hoekom ‘n sny gebraaide eierbrood ‘n omgekeerde tefie genoem word nie en ek wil liewers nie te veel daaroor dink nie!
Soveel lande as wat daar is, soveel weergawes is daar, soet of sout. Die Australiers smeer dit met Marmite en in Indië word dit met uie en rissies geëet.
In Italië word ‘n sny mozzarella tussen twee snye brood gesit en dan in die eier gedompel en gebraai. Tamatiesous, kaas en pietersielie word in drie breë strepe oorgegooi om die drie kleure van hulle vlag te weerspieël. Dit word mozzarella in carrozza, mozzarella in ‘n koets genoem.
In Portugal word dit veral oor die Kersseisoen geëet. Ou, harde brood word eers in melk geweek, dan in eier, diepgebraai in olyfolie en met suiker en kaneel bestrooi of in ‘n stroop van water, suiker, kaneel en suurlemoen gedompel. Dit klink amper soos ‘n broodkoeksister!


Eers moet jy ‘n brood bak met laasweek se vetkoekresep. As jy dit nie meer het nie gaan kyk op my webwerf of stuur vir my ‘n e-pos. As jy in Johannesburg bly kan jy vir jou ‘n witbrood by The Chef in Richmond gaan koop. Dis bleddie duur, maar elke sent werd. As jy gewone winkelbrood gaan gebruik kan jy dit net so wel los!
















